Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 11 April 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

VOORGESTELDE VERANDERINGS AAN DIE SARL GRONDWET: PRESIDENTSNET-BESPREKING

BESPREEK DADELIK VIR DIE NASIONALE KONVENSIE

VIER AMATEURRADIODAG OP 18 APRIL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

VOORGESTELDE VERANDERINGS AAN DIE SARL GRONDWET: PRESIDENTSNET-BESPREKING

Gedurende vanaand se Presidentsnet om 19:30 sal die voorgestelde veranderings aan die grondwet bespreek word. Gebruik hierdie geleentheid om helderheid te verkry aangaande die voorgestelde veranderings en die Raad se redes vir die voorstelle.Skakel in op ’n herhaler naby jou en gesels saam. Die voorgestelde hersiene grondwet is beskikbaar op SARL se webwerf. Kyk onder die afdeling vir lede.

BESPREEK DADELIK VIR DIE NASIONALE KONVENSIE

Die tyd word min om besprekings te doen vir die verskeidenheid geleenthede wat tussen 23 en 25 April tydens die SARL-konvensie in Port Elizabeth aangebied word. Die Konvensie neem Vrydagaand ’n aanvang met ’n spitbraai by die Italiaanse Sportklub, waar die Jaardinee op Saterdagaand ook aangebied word.

Die Algemene Jaarvergadering begin Saterdagoggend by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. In die middag is daar verskeie aktiwiteite waaraan deelgeneem kan word. Daar is onder andere ’n forum met die tema Kompetisie en DX-werk, ’n besoek aan ’n wildsplaas, of die vervaardiging van sportmotors.

Die gewilde PIC-kursus, waar deelnemers sal leer hoe om PIC-programmering binne 4 uur onder die knie te kry, word ook Saterdagmiddag aangebied. Ingesluit by die koste van die PIC-kursus is ’n geskenkpak van bruikbare programme en produkte met ’n waarde wat die registrasiefooi oorskry. Deelnemers ontvang ook ‘n sertifikaat van Microchip, die ondersteuners van die kursus.

Die konvensie word met ontbyt op Port Elizabeth se welbekende strandfront afgesluit.

As u nie die konvensie kan bywoon nie, nomineer gerus iemand om u te verteenwoordig. Voltooi die nominasievorm en stuur dit so gou doenlik terug. Registrasievorms is beskikbaar op die webwerf. Betalings kan per bankoorplasing of per kredietkaart gemaak word. Dit kan alles gevind word by www.sarl.org.za. Doen dit vandag nog!

SA AMSAT-RUIMTESIMPOSIUM VOLGENDE WEEK

Volgende Saterdag word die SA AMSAT-ruimtesimposium by die Universiteit KwaZulu-Natal gehou. Dis nog ’n geleentheid wat nie misgeloop moet word nie. SARL- en SA AMSAT-lede kan steeds tot Maandag voor kantoorsluiting vroeë besprekings maak.

Kry verdere inligting by www.amsatsa.org.za. Kom meer te wete oor SumbandilaSat, Suid Afrika se twee nuwe CubeSat-projekte, en die om-die-wêreld-ballonprojek genaamd Lalea. Daar is nog vele ander aanbiedings om aan deel te neem. Kry die volle program by www.sarl.org.za, en volg dan die skakels.

VIER AMATEURRADIODAG OP 18 APRIL

Op Sondag 18 April word Wêreld-amateurradiodag gevier. Hierdie jaar is die tema “Amateurradio: kombineer kommunikasie-ervaring met modern digitale tegnieke”. Hoe gaan u klub die dag vier? Laat ons weet by armi@sarl.org.za en ons sal dit op die SARL-webwerf plaas.

SARL-KOMPETISIEHANDBOEK 2011

Radioklubs en individuele radioamateurs word genooi om die 2010-SARL-kompetisiehandboek te gebruik as basis vir die skep van die 2011-uitgawe.
Idees, voorstelle en kommentaar moet die Kompetisiebestuurder/Komitee bereik teen 31 Augustus 2010. Hieruit sal 'n konsep-kompetisiehandboek vir 2011 geskep word wat dan vir kommentaar beskikbaar gestel sal word. Dit word beplan om 2011 se SARL-kompetisiehandboek teen 15 Desember 2010 te publiseer.

KOMPETISIENUUS

Die Herfs-QRP-naelloop vind plaas vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op Sondag 18 April. Stasies kan deelneem as draagbare of vaste stasie, as GG alleen, foon alleen of gemeng. Daar is drie kragverstellings om van te kies: 5 watt, 1 watt of 100 milliwatt. 'n RS(T)-verslag en die jaar van eerste lisensie word uitgeruil. Werking is tussen 7,000 tot 7,025 MHz en 7,060 tot 7,100 MHz. Elke QSO tel twee punte en elke voorvoegsel gewerk tel twee punte. Logstate moet teen 3 Mei versend word aan die Wes-Randse ARK, Posbus 5344, Weltevredenpark, 1725, of per e-pos aan glevey@gmail.com.

UITSLAE SARL- NASIONALE VELDDAG

Sewentien logs is ontvang vir die Februarie-been van die SARL se Nasionale Velddag. Die uitslae vir die drie kategorieë is soos volg:

Enkeloperateur-veldstasie:

1e Jan Botha, ZS4JAN, 96 120 punte
2e Christo Kriek, ZR6LJK, 13 995 punte
3e Bryan King, ZS2SS, 8 400 punte

Multi-operateur-veldstasie

1e Wes-Randse ARK, ZS6WR, 57 970 punte
2e Pretoria-ARK, ZS6PTA, 50 750 punte
3e Hibiskus-Kus-ARK, 34 500 punte

Algemene stasies

1e Wêreldbekersokker, ZS10WCS, 110 160 punte
2e Philip Esterhuizen, ZS4PJ, 40 812 punte
3e Johan Esterhuizen, ZS4PP, 18 630 punte

SARL- 80 m- Digitale klubkompetisie.
Vier logs is ontvang vir die tweede klubkompetisie. Die uitslag is:

1e Wes-Randse ARK, 9 punte
2e ZS-kompetisiegroep, 3 punte

Volledige uitslae sal in HF Happenings verskyn.

KLUBNUUS

Die Wes-Randse Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 SAT op Saterdag 24 April 2010 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting kontak Joop, ZS6C, by 082 342 3280.

ZS6JVT, die amateurradioklub by die Tegnologiese Hoërskool John Vorster, hou ’n snuffelmark op Saterdag 8 Mei 2010 by ZS6JVT se radio-opleidingsentrum. Die jongmense is trots op hul sentrum en sal besoekers graag rondwys.

As u enige elektroniese of radio-apparaat het waarvan u ontslae wil raak of dalk iets soek vir die radiokamer, kom besoek ZS6JVT. Tafels, staanplek of kattebakverkope kos R20.Die snuffelmark begin om 08:30. Lekker eet- en drinkgoed sal beskikbaar wees. Daar is volop veilige parkering beskikbaar op die skoolgronde. Kom gebruik ook `n radio vir ’n QSO en kom geniet die dag.

Die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster is geleë te Meyerstraat 1072, Rietfontein, Pretoria.Vir meer inligting, kontak Johann, ZS6PSS, by 082 446 1581.

Die Kempton-Parkse Tegniese Amateurradiovereniging het op 13 Maart 2010 sy algemene jaarvergadering gehou. Die volgende persone is tot die nuwe bestuur verkies:

Voorsitter: Stephen Stuttard, ZS6SKY
Visevoorsitter: Vivian Dold, ZS6VD
Sekretaris: Clive Reeks, ZS6BT
Tesourier: Barry Els, ZSL470
Bykomende lid: Nico van Rensburg, ZR6QL

MEI-RAE

Die sluitingsdatum vir inskrywings vir Mei 2010 se radioamateureksamen is Vrydag 23 April 2010 om 12:00 SAT. Neem asseblief kennis dat geen laat-inskrywings aanvaar sal word nie. Enige navrae kan gerig word aan Mariska by die SARL-kantoor. Besoek asseblief die SARL-tuisblad vir kontakbesonderhede en die aansoekvorm.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 April – Herfs-QRP-naelloop.
18 April – Wêreld-amateurradiodag.
23 April – Mei-RAE-inskrywings sluit.
23-25 April – SARL- Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.
24 April – Wes-Randse Amateurradioklub hou snuffelmark.
3 Mei – Logstate vir die die Herfs-QRP-naelloop moet in wees by die Wes-Randse ARK.
7 Mei – Sluitingsdatum vir stadium 2 van konstruksiekompetisie.
8 Mei – Tegnologiese Hoërskool John Vorster se Amateurradioklub hou snuffelmark.
31 Augustus – Kommentaar op die 2010-SARL-kompetisiehandboek moet in wees.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Slegs Sonvlek 1 061 is tans sigbaar. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan daal tot minder as 10.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Smiddae gaan die toestande na Indië goed wees. Laatmiddae en saans gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Kontakte met die VSA begin uitdagend word.

Smiddags en vroegaand gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

17 m is ook smiddags oop na verskeie gebiede regoor die wêreld. Die meeste aktiwiteit is Vrydagmiddae en natuurlik oor die naweke.

Plaaslike toestande gaan bedags op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m is bedags baie bruikbaar en goeie kontakte kan oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 570 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Leon, ZS4V, saamgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003